Founders
Stigters

Japie Human

Japie Human het in Winburg grootgeword en in 1951 met sy musiekstudie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) begin, waar hy in 1976 'n PhD verwerf het. Hy is reeds in 1961 as klavierdosent aangestel en was 'n professor toe hy ná 'n hartaanval in 1991 vroeg afgetree het. Human het ook in Brittanje en die VSA studeer, waar hy onder meer vyf lisensiate en 'n MMusEd verwerf het. Die bekende Gerald Moore was een van sy klavierpedagoë.

 

As geliefde dosent aan die UV het hy talle beurs- en kompetisiewenners opgelewer, van wie sommige steeds aktiewe musiekloopbane in Suid-Afrika en in die buiteland volg.

 

Human was etlike jare 'n Unisa-eksaminator en het in talle beoordelaarspanele vir Suid-Afrikaanse en internasionale klavier- en musiekkompetisies gedien.

 

Hy was ook 'n bedrywige uitvoerende pianis oral in Suid-Afrika - as solis, kamermusikus en saam met al die voorste orkeste.

 

Daarby was hy 'n briljante jazzpianis, sodanig dat die bekende Adolph Hallis gesê het: "You have a marvelous talent for jazz piano. Why on earth are you wasting your time on classical music?"

Oorspronklike artikel: Netwerk 24, Elretha Britz

Willem Naudé

Willem Naude het in Heilbron grootgeword, ná skool landbou studeer, sy loopbaan as 'n onderwyser begin en jare lank Engels aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gegee.

 

In 1970 het hy geskuif na die departement van kultuursake, waar hy met begeesterde leiding talle kunstentoonstellings, toneelopvoerings en musiekkonserte oor die Vrystaat heen aangebied het.

 

Hy was ook 'n sanger wat gereeld in amateurproduksies opgetree en later ook orrel leer speel het.

 

Hierbenewens was hy 'n uitstekende pottebakker, tuinier en kok. Human en Naude se huis was 'n gewilde kuierplek vir hul groot vriendekring wat opgebou is om 'n liefde en waardering vir goeie musiek te kweek. Hulle het gereeld huiskonserte gehou en hul weeklikse musiekoggende was 'n inspirerende heenkome vir baie.

 

Daarby het Naude se fyngebak van elke geleentheid iets besonders gemaak.

 

Naude is in 2013 op 88 oorlede.

 

Oorspronklike artikel: Netwerk 24, Elretha Britz